Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 5 FEBRUARIE 2017

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuusbulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 plaaslike tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS0JPL.

‘n Oudioopname sowel as ‘n teksweergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

IN DIE NUUS VANDAG:

SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NASIONALE VELDDAG

TERUGVERSTROOÏNG SEINE OOR DIE ATLANTIESE OSEAAN OP 144 MHZ

AMATEUR TELEVISIE (ATV) BEGIN IN KAAPSTAD

HAMNET OOSKAAP IS AAN DIE GANG

ADV GELYKGOLF AKTIWITEIT DAG VANMIDDAG

2017 BAKEN “BUILD-A-THON”

HF VOORTPLANTINGVOORSPELLING

en

DAGBOEK VAN GEBEURE


** Die Suid-Afrikaanse Radioliga Nasionale Velddag is op die lug vanaf 10:00 UTC op Saterdag 11 Februarie tot 10:00 UTC op Sondag 12 Februarie 2017. Die doel is om soveel stasies as moontlik op al die HF amateur bande te werk (uitgesluit die 2 200, 630, 60, 30, 17 en 12 m bande) met foon, gelykgolf, PSK31 en/of RTD. Die uitruiling is die aantal senders, die Velddag klas en jou Provinsiale afkorting. 'n RS of RST verslag is nie nodig nie.

Jy en/of jou klub kan deelneem as Klas A - veldstasie, multi-operateur, Klas B - veldstasie, multi-operateur, QRP, Klas C - veldstasie, enkel operateur, Klas D - veldstasie, enkel operateur, QRP, Klas E - Ultra Lig draagbare of as jy nie mag uitgaan nie as Klas F - algemene stasie.

Logstate, in ADIF, Cabrillo of MS Excel-formaat en gemerk "jou roepsein NFD," moet per e-pos aan zs4bfn@mweb.co.za gestuur word teen 19 Februarie 2017. 'n Foto(s) van die stasie in werking (JPG-formaat) moet elke log inskrywing vergesel.

Raadpleeg die 2017 SARL Blouboek vir die reëls van die ADV Gelykgolf Aktiwitietsdag asook die SARL Nasionale Velddag.

** Twee besighede, RS Components en Trax Interconnect, het groot bydraes gelewer aan AMSAT SA se Kletskous CubeSat projek. RS Components het komponente voorsien vir die volgende generasie Elektroniese Kragbron Stelsel (EPS) en die kontrole bord. Trax Interconnect het die stroombaanborde vir die EPS, kontrole bord en magnetiese stabiliseer stelsel voorsien. Hul ondersteuning aan amateur radio en amateur radio satelliete word baie waardeer.

** Pieter V51PJ by Rosh Pinah was besig met skedules met Marcos PY1MHZ in Brasilië op 144 MHz JT65b, toe Bernie ZS4TX hom laat weet het dat hy Pieter se sein teen -28 dB op die maan kon sien. Die maan was baie laag op die westerlike horison in Namibië en Pieter was besig om teen 259 grade uit te straal. Later, nadat die maan ondergegaan het, het Bernie laat weet dat hy steeds Pieter se JT65b sein op die waterval kon sien wat blykbaar meer as 900 km agter hom oor die Atlantiese oseaan is. Wanneer ‘n Meteoorbars plaasvind, het Bernie ‘n Dopplerskuif by 200 Hertz van die frekwensie af waargeneem en wanneer hy polarisasie van horisontaal na vertikaal verander, was die sein baie swakker en kon dit nie dekodeer nie.

Baie jare gelede, het Professor J.A. Gledhill en sy span by Rhodes Universiteit sterk Sporadiese-E voortplanting snags naby die Suid-Atlantiese Ongerymdheid ontdek. So ons kan aflei dat die medium, wat die bogenoemde terugverstrooïng op BHF veroorsaak het, dalk deur Sporadiese-E wolke oor die Atlantiese Oseaan veroorsaak is. Dit mag die moeite werd wees om hierdie verskynsel verder te studeer, soos om uit te vind in watter rigting die weerkaatste BHF seine die sterkste was.

** Volgens Hennie Coetzer, ZS2HC, het die Hamnet lede, met behulp van die Grens Radio Klub, weereens kommunikasie voorsien vir die Ysterman 70.3 in Oos Londen. Sondag 29 Januarie was die 10de herdenking van hierdie wedren en talle atlete het deelgeneem.

Anthony ZS2BQ en Ivan ZS2ILN het die VOC beman met die hulp van Alistair ZS2AB, Andrew ZS2EL, Hennie ZS2HC, Nick ZS2NB, en Phil ZS2NP. Garth ZS2AAR het die kruisband herhaler beman wat dekking verskaf het aan die mense wat nie die herhaler in die stad kon bereik nie. Voldoende dekking van die gebeurtenis is deur die span moontliki gemaak. Hulle het beide die logistiese sowel as die nood verkeer hanteer. Dankie aan almal wat betrokke was.

Die Oos Londeners rus nie – hulle berei reeds voor vir die Branderry Marathon op die 18de Februarie waar hulle weereens die amateurradio vlag hoog sal vlieg.

Daar was ook ‘n paar gebeure in Port Elizabeth. Op Sondag 29 Januarie, was Andrew Gray op die strand by Sardinië baai toe hy hoor van ‘n moontlike verdrinking. Andrew het die Hamnet groep gekontak en talle lede het opgedaag om met die soektog te help. Die Hamnet groep het lede aangebied om te help met die soektog en met kommunikasie op die 145.225MHz nood simpleks frekwensie. Die NSRI, Kus water redding en paramedici was ook op die toneel.

Die liggaam was later vanuit ‘n helikopter gevind en die soektog was afgelas. Dankie aan almal wat reageer het.

PEARS en Hamnet Ooskaap is ook besig met voorbereidings vir ‘n besige seisoen met die Herald Bergfiets wedren op 19 Februarie en ‘n week later die pad wedloop.

‘n Nuwe gebeurtenis vir die buitelewe entoesiaste is die Addo Extreme 100 Myl (160Km) wedloop. Die wedloop vind plaas tydens die naweek van 10-12 Maart in die berge rondom Addo en Kirkwood. Die terrein hou aansienlike uitdagings in – nie net vir die deelnemers nie, maar ook vir die radio amateurs. Dit is nie net ‘n uitdaging om die kommunikasie vereistes te bevredig nie, maar ook om by die plek uit te kom. Die radio amateurs sal moet kamp opslaan in baie afgeleë plekke, maar dis hoekom hulle doen wat hulle doen!

** Raoul Coetzee ZS1C het aangekondig dat hy tans ATV uitsaai op 1265 MHz FM, omtrent 4 Watt in ‘n log-periodiese antenna met omtrent 9 dB wins. Hy kan die antenna in enige rigting draai vir iemand wat belangstel om ‘n toets te doen. Hy is in Kraaifontein geleë en straal tans uit in die rigting van Bellville en Brackenfell.

Raoul sê dat enige ou FM analoog satelliet ontvanger gebruik kan word. Konnekteer slegs ‘n antenna en stem in. Hierdie ontvangers is nie baie sensitief wanneer hulle alleen gebruik word nie so hy is opsoek na ‘n geskikte voorversterker met ‘n bandlaatfilter vir 1,26 GHz. Hy gebruik 4 MHz bandwydte so dit wil voorkom of enige bandwydte stelling op die ontvanger werk. Indien jy sy roepsein op ‘n stuk hout sien, het jy hom gevind!

Die sender is ‘n aangepaste SM data sender en hy gebruik slegs ‘n klein deel van die sender. Daar is tans geen klank nie aangesien hy nog ‘n 6 MHz ossillator moet bou. Dan moet FM bygewerk word en die saamgestelde video sein moet saam na die hoof VCO gestuur word sodat die satelliet ontvanger die oudio ook kan ontvang. Hy bedank graag vir Leon Korkie, ZS1MM, vir die sender en vir die inligting om die sender aan te pas.

** Vanmiddag vanaf 13:00 - 15:00 UTC, kan jy aan die Antieke Draadloos Vereniging se gelykgolf Aktiwiteit Dag deelneem. Die doel van die ADV Gelykgolf Aktiwiteit Dag is vir deelnemers om soveel kontakte as moontlik met amateurs op die 20, 40 en 80 m amateurbande te maak. Die uitruiling is 'n RST verslag, jou naam en jou ruitverwysing. Jy kan deelneem as 'n enkele operateur alle band, lae krag stasie, 'n enkele operateur alle band, QRP stasie, 'n enkele operateur enkel band, lae kragstasie of 'n enkele operateur enkel band, QRP stasie. Logstate moet teen Maandag 20 Februarie 2017 ingedien word by andyzs6ady@vodamail.co.za.

** Leon, ZR6LU, sê, "Daar is 'n groep aktiewe amateurs wat suksesvol hul eie bakens gebou het. Almal is regoor die land en die wêreld aktief met hul bakens. Die rekord is tans êrens rondom 19 000 km op 200 mW of iets van daardie orde.

Die bakens word meestal onder my toesig gebou, hoewel sommige ouens beter toroids as ek draai en baie beter Perspex kassies maak.

Die demonstrasie baken word tans in Kaapstad gehuisves en enigiemand kan aansoek doen om dit te huisves vir 'n rukkie. Huidige planne is om dit volgende na Port Elizabeth te skuif en daarna na KwaZulu-Natal. Dit is klein, die grootte van 'n dik sagteband boek.

Ons wil die sukses van verlede jaar se “Build-A-Thon” herhaal en het dus die 2017 Baken Werkswinkel vir Saterdag 11 Maart 2017 georganiseer met nog meer en beter insette van die ouens wat dit alreeds gedoen het. Daar sal ongeveer 'n uur van samesprekings wees in die oggend, gevolg deur praktiese smelt van soldeersel en buig van drade!

Daar is nog 'n paar boustelle beskikbaar vir verkoop aan die meer tegniese amateurs, asook voltooide boustelle wat gebou is deur mede-amateurs, gereed om te gaan.

Kontak my op 082 573 5580 vir meer inligting."

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is 'n paar sonvlekke sigbaar maar almal is tans stabiel met bykans geen kans vir ernstige sonfakkels nie.

Diegene wat hul eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 3 vir die week gebruik.

Amateurs kan goeie openinge op die 15 tot 30m bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Kom ons loer nou na gebeure vir die volgende paar weke:

5 Februarie – AWA CW Aktiwiteit
11 – 12 Februarie – SARL Nasionale Velddag
18 Februarie – SARL Jeug Naelloop
18 Februarie – SDR Werkswinkel
25 Februarie – Wes Rand Amateurradio Klub Snuffelmark
26 Februarie – SARL Digitale Kompetisie
4 Maart – Kaapstad Amateurradio Klub Groot Snuffelmark
5 Maart – SARL Hamnet 40m Kompetisie

Om die bulletin mee af te sluit ‘n opsomming van ons hoofberig: Die Suid-Afrikaanse Radioliga Nasionale Velddag is op die lug vanaf 10:00 UTC op Saterdag 11 Februarie tot 10:00 UTC op Sondag 12 Februarie 2017. Die doel is om soveel stasies as moontlik op al die HF amateur bande te werk (uitgesluit die 2 200, 630, 60, 30, 17 en 12 m bande) met foon, gelykgolf, PSK31 en/of RTD.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radio Liga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio Liga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laersyband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 plaaslike tyd op 4 685 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radio Liga, saamgestel deur Emile Venter, ZS6V, en gelees deur ...........................................................

Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003